17 Mar Waterhouvermoë –eenvoudige beginsels om jou besproeiingskedulering te kontroleer
By Bennie Diedericks
‘n Grond se vermoë om water vas te hou is ‘n funksie van die grond se tekstuur. Tekstuur word bepaal deur die hoeveelheid en verhouding van sand, slik en klei deeltjies tot mekaar. Hierdie verhouding is ‘n funksie van die moedermateriaal waaruit die grond ontstaan het, en bly dus konstant vir ‘n bepaalde grond. ‘n Eenmalige laboratoriumtoets om ‘n grond se waterhouvermoë te bepaal word dus aanbeveel.
Die onderstaande tabel wys die invloed van tekstuur op grond eienskappe van belang by waterbestuur:
Tekstuur |
Water Infiltrasie |
Water Hou-vermoë |
Nutrient Hou- vermoë |
Deulugting |
Sand | Goed | Swak | Swak | Goed |
Slik | Medium | Medium | Medium | Medium |
Klei | Swak | Goed | Goed | Swak |
Organies | Medium | Goed | Goed | Medium |
Leem | Medium | Medium | Medium | Medium |
Die berekeninge hieronder het ten doel om jou te help om riglyne te ontwikkel waarteen jy die besproeiingsvolumes wat jy tans toedien kan evalueer. Daar is min produsente wat besproeiingsmonitors in elke blok het, en in sommige gevalle word ‘n algemene riglyn vir ‘n hele plaas gebruik. Effektiewe verbruik van water gaan toenemend belangrik word, en dit is elkeen se verantwoordelikheid om dit goed te bestuur.
- Die waterhouvermoë van ‘n grond word uitgedruk in mm water/m grond diepte.
- Die eenheid van reën/besproeiing is mm, en 1 mm reën of besproeiing is gelyk aan ‘n toediening van 10m3 water/ha.
- Die tabel hieronder toon dan dat ‘n growwe sand, 50mm water oor ‘n diepte van 1m kan vashou.
- Dit is gelyk aan 500m3/ha, of 500m3/10 000m3
- Op hierdie punt is al die grondporieë met water gevul, en enige addisionle water sal van die oppervlak afloop, of verby ‘n diepte van 1m dreineer.
- Ons besproei baie selde wanneer die grond kurkdroog is. Gewoonlik word die water aangevul wanneer die gewasse 50% van die water onttrek het. In hierdie voorbeeld beteken dit dan dat slegs 250m3 water nodig sal wees om weer die grond te versadig.
- Indien die gewas se wortels net 60cm diep is, word die watervolume wat in die grond vasgehou word met 40% verminder tot 150m3 – ons bestuur immers die water in die wortelsone.
- By wingerd en vrugte speel rywydte ‘n rol, want dit is slegs die plantrye wat besproei word.
Op ‘n growwe sand, met ‘n 3m ryspasiëring (33rye/100m), ‘n worteldiepte van 80cm, en ‘n benatte plantry van 1m wydte, word die waterhouvermoë van ‘n ha area soos volg bereken:
500m3 x (33rye x 100m)/10 000m2 x 0,8m x 1m = 120m3
Tekstuur van die Grond |
Waterhouvermoë (mm/m) |
Growwe sand | 50 |
Fyn sand, Sand-leem | 80 |
Leem-sand | 125 |
Leem, Slik-leem | 160 |
Klei | 180 |
Ander faktore wat besproeiingsvolumes kan beïnvloed sluit die volgende in:
- Organiese materiaal verhoog ‘n grond se waterhouvermoë.
- Klip verminder die grondvolume en verlaag dus waterhouvermoë.
- Bewerking en verdigting vernietig grondstruktuur, en het dus ‘n negatiewe invloed op die grond se waterhouvermoë.
- Die effektiwiteit van die besproeiingstelsel.
- Periodieke loging van oortollige soute.
Bespreek hierdie inligting met jou besproeiingsadviseur ten einde water en krag verbruik te optimaliseer.
Al die blokke is op dieselfde besproeiingskedule. ‘n Vermorsting van water, kos en krag.